OOS-KAAP- en KZN-SUID-STREEK
Bemagtig 'n Kind-stories
Arbeidsterapie maak 'n verskil!
Arbeidsterapie maak 'n verskil!
Jannie is agt jaar oud. Sy juffrou het sy ouers ingeroep en meegedeel dat Jannie nie vorder nie. Hy ontwrig die klas en maak soms die maatjies seer omdat hy so lomp speel. Hy ruil sy letters om en spelling is vir hom 'n straf. Wanneer die dag te lank word, is 'n woedebui (tantrum) soms sy uitlaatklep. Sy juffrou het aanbeveel dat sy ouers hom na 'n arbeidsterapeut neem vir 'n assessering.
Jannie se ontwikkeling as baba het nie normaal verloop nie. Daar is gevind dat Jannie 'n breingewas het en die gevolg daarvan is 'n lae spiertonus, beperkte groot motoriese ontwikkeling en uitdagings met fyn motoriese ontwikkeling. Hy is ook met AGHS (ADHD) gediagnoseer. Hy ruil sy letters om en sukkel met spelling as gevolg van 'n tekort aan visuele aandag en die prosessering van visuele waarnemings. Die woedebuie word toegeskryf aan sensoriese oorstimulering.
Medikasie is voorgeskryf om te help met sekere aspekte, maar die belangrikste was die dienste en ondersteuning van 'n arbeidsterapeut aan die skool en gesin.
Die Here het elkeen van ons kinders so mooi en uniek gemaak. Soms gebeur verloop hulle ontwikkeling nie soos dié van ander kinders nie; hulle leer anders en ervaar uitdagings op verskeie vlakke – emosioneel, fisies, akademies en sosiaal.
Die rol van die arbeidsterapeut is om leerlinge te ondersteun en vir hulle nuwe vaardighede aan te leer om hulle potensiaal ten volle te ontwikkel. Dis 'n proses en elke keer is daar nog 'n trappie om te bereik. Terapiesessies is dus nie 'n vinnige, eenmalige behandeling nie, maar 'n deurlopende proses van herhaalde assessering en aanpassing. Alle kinders se behoeftes verskil ook en die arbeidsterapeut hanteer dit so.
Suksesvolle terapie is afhanklik van samewerking tussen die ouer, arbeidsterapeut en onderwyser in die klaskamer. In Suid-Afrika is daar min skole met klasse vir kinders wat anders leer of wat leerhindernisse het. Daar word verwys na inklusiewe onderwys (wat almal in een stelsel insluit), maar die nodige kennis en vaardighede ontbreek nog in hierdie sisteem. Gevolglik is daar soveel kinders wat op skool sukkel en selfs nie hulle skoolloopbaan voltooi nie.
In KwaZulu-Natal-Suid is die dienste van 'n arbeidsterapeut bekom nadat een van die Solidariteit Helpende Hand-takke kinders se nood raakgesien het. Dit maak 'n groot verskil in hierdie kinders se lewe en gee hulle ook 'n kans om ten volle te ontwikkel.
Om 'n kind te assesseer, kos tussen R600 en R1 000. Die koste om kinders soos Jannie vir arbeidsterapie te stuur, beloop tussen R500 en R600 per maand. Die totale bedrag om slegs een kind te help, beloop dus minstens R6 600 per jaar – en daar is baie kinders net soos Jannie wat hierdie waardevolle terapie nodig het.
Het jy geweet........................
Arbeidsterapie help met
Tantrums na skool – Kleingoed wat sukkel met sensoriese regulasie kan na skool gereeld sukkel met tantrums of tranerig en emosioneel wees. Ons noem dit ‘n veg en vlug respons. Arbeidsterapeute help om die sensoriese siteme te help reguleer.
Kieskeurige eters – Sukkel jou kind om gemengde teksture te eet (bv. pasta met maalvleis), eet hy net een kleur kos (bv. Chicken nuggets en chips) of is hy huiwerig om nuwe kossoorte te probeer? Arbeidsterapie kan help.
Oor hulle voetjies val – ‘n Onder ontwikkelde proprioseptiewe stelsel kan veroorsaak dat jou kleinding nie weet waar hulle lyfies is nie. Hulle val maklik oor hulle eie voetjies en lyk gereeld lomp en ongekoordineerd.
Lê op die mat as die res van die klas mooi regop sit – Kinders wat sukkel met lae spiertonus vind dit moeilik om teen gravitasie regop te bly. Hulle lyfies raak vinnig moeg en dis moeilik om mooi regop te sit.
Swak potloodgreep en kontrole verbeter – Vermy jou mensie inkleur, verf en teken? Jaag hy die tipe werkies af of kla hy as dit tyd raak vir tafel werkies. Dit kan wees dat fynmotoriese take vir hom moeilik is. As kinders se maag, rug en skouers nie sterk genoeg is nie het hulle nie die stabiliteit om goeie fynmotoriese taakuitvoering te hê nie.
Werksgewoontes – Sukkel jou kind om take te voltooi of jaag hy takies af ongeag die kwaliteit van die werk wat hy doen? Sê sy juffrou hy sukkel om stil te sit? Dagdroom hy eerder as om deel te neem aan aktiwiteite of werk hy baie stadig? Arbeids terapeute kan help vasstel wat die oorsaak is.
Sensitief vir teksture – Is daar sekere tekstuur klere wat jou kind vermy of kla sy oor etikette wat haar krap en seermaak? Vermy sy vuil word? Wil sy nie aan gom of verf vat nie of moet haar handjies dadelik gewas word as hulle vuil is? Arbeidsterapeute kan hiermee help.
Legkaart en pennetjiebord bou – Vermy jou kind legkaarte of penntjieborde? Begin hulle en gooi dan maklik tou op? Is dit vir hulle moeilik of dit of hulle meestal raai of sonder ‘n plan werk? Dit kan wees dat hulle visuele persepsie aandag nodig het.
Midlyn kruising – Ruil jou kind handjies as sy inkleur of is sy geneig om met haar regterhand take aandie regterkant van haar lyfie te doen en met haar linkerhand van haar lyfie? Wys sy nie voorkeur vir ‘n dominante hand nie of is dominasie nie vasgelê nie. Dit is moontlik dat haar midlyn kruising nog nie goed geintegreerd is nie.
Slaap – Sukkel jou kind om rustig te raak voor bedtyd, vat hy lank om aan die slaap te raak of raak hy gereeld wakker? Dit kan wees dat sy sensoriese regulasie veroorsaak dat hy sukkel om te slaap.