Jong vrywilliger bou met passie aan hoop in Despatch

Vir Chané Veldtman (21) van Despatch was diensbaarheid nie iets wat sy eers later in haar lewe ontdek het nie – sy het daarmee grootgeword. Maar vandag kies sy self om haar hand op te steek en ‘n verskil in haar gemeenskap te maak.

Haar ma, Marlene Basson, is reeds jare by Solidariteit Helpende Hand betrokke, eers lank as taklid en later as streeksorganiseerder. Chané het dus van kleins af gesien hoe gemeenskappe deur diensbaarheid en omgee verander kan word.

“Solidariteit en Helpende Hand is van geboorte af deel van my lewe. Ek het my ma reeds sedert my tienerjare met projekte gehelp,” vertel sy.

Vandag dien Chané as dorpsverteenwoordiger in Despatch waar sy help om die plaaslike tak weer op die been te bring. Sy het ook by die plaaslike Ons Winkel, Helpende Hand se tweedehandse skenkingswinkel, uitgehelp en werk tans daar. Haar passie vir diensbaarheid en gemeenskapsontwikkeling bly die dryfkrag agter haar betrokkenheid.

Volgens haar is dit die gevoel van behoort en die wete dat sy deel is van iets groter as haarself wat haar motiveer om aan te hou.

“Dit is lekker om deel te wees van ‘n organisasie wat omgee vir sy mense. Dit laat my deel voel van hoop skep,” sê sy.

Van haar mooiste herinneringe sluit projekte saam met bejaardes in, waar hulle saam gaan fliek en gebrei het. Kinderpartytjies en skoolvakansieprojekte staan ook vir haar uit as hoogtepunte wat sy altyd sal koester.

Haar betrokkenheid het haar persoonlik diep geraak.

“Ek het beslis empatie en nederigheid geleer,” sê sy.

Chané glo Helpende Hand maak ‘n tasbare verskil in Despatch, veral met projekte wat kinders ondersteun om skool toe te gaan.

“Dit beteken dat kinders voorberei word vir die samelewing en dalk eendag die geleentheid kan hê om werk te kry,” sê sy.

Vir haar lê die waarde van vrywilligerswerk dikwels in die klein dingetjies wat later ‘n groot impak het.

“As ek sien daar word ‘n verskil in iemand se lewe gemaak, selfs met iets klein wat ‘n rimpeleffek het en kan uitkring na iets groter, gee dit my energie om aan te hou,” sê sy.

Volgens Marlene Basson, streeksorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand se Oos-Kaap- en KZN-Suid-streek, wys Chané dat diensbaarheid nie wag vir ouderdom nie.

“Chané wys dat jy nie hoef te wag totdat jy eendag meer tyd, meer ervaring of meer hulpbronne het voordat jy ‘n verskil kan maak nie. Sy het haar hand opgesteek en besluit om deel van die oplossing te wees. Dit is juis jong mense soos sy wat wys hoe gemeenskappe sterker word wanneer mense hul tyd, energie en talente gebruik om ander op te hef,” sê Basson.

Basson sê jong vrywilligers speel ‘n belangrike rol in die bou van sterker gemeenskappe.

“By Helpende Hand sien ons daagliks hoe een mens se betrokkenheid ‘n rimpeleffek skep wat baie verder strek as wat hulle besef. Wanneer mense hul hand opsteek en deel word van iets groter as hulself, help hulle om hoop te skep, waardigheid te herstel en gemeenskappe sterker te maak. Chané is ‘n mooi voorbeeld daarvan,” sê sy.

Vir mense wat nog huiwer om betrokke te raak, het Chané ‘n eenvoudige boodskap:

“Hoekom twyfel jy? Jy kan met min werk baie doen en selfs met min geld ‘n reuseverskil maak.”

Sy som haar vrywilligersreis op as ‘n roeping om ‘n betekenisvolle verskil te maak.

“Alhoewel ek in die Helpende Hand-familie gebore is, beteken dit nie my werk en aksies as vrywilliger beteken niks nie. As jy jou hand opsteek en ‘n verskil probeer maak, beteken dit die wêreld vir iemand, en uiteindelik vir die hele gemeenskap.”

Kontak Basson by 083 501 3166 of [email protected] om betrokke te raak in Despatch, Uitenhage of enige ander dorp in die Oos Kaap.

Fotobyskrif: Chané Veldtman (Despatch-dorpsverteenwoordiger), Liezl van Wyk (streeks- maatskaplike werker), Vanessa Schoeman (Voelgoed Media-redakteur) en Marlene Basson (streeksorganiseerder van die Oos-Kaap- en KZN-Suid-streek) tydens die onlangse Voelgoed Media Fliekaand in Pajamas ten bate van Solidariteit Helpende Hand.

Leave a Comment