Gemeenskapsnuus: Leer ken van Helpende Hand se oudste vrywilligers

As deel van Solidariteit Helpende Hand se Vrywilligersmaand in Mei word hierdie menslike stories vertel om erkenning te gee aan die mense agter die werk – vrywilligers wie se toewyding, deernis en volgehoue betrokkenheid die ruggraat van baie gemeenskappe vorm.


*Hettie Moller (71) ) van Amanzimtoti in KwaZulu-Natal

Sy het gewag vir haar beurt, nou dien Hettie met oorgawe

Hettie Moller (71) van Amanzimtoti is ‘n aktiewe vrywilliger wat haar tyd en energie in Solidariteit Helpende Hand se projekte belê.

Hettie het jare gelede met liefdadigheidswerk begin toe sy ‘n oproep van Helpende Hand se dienssentrum ontvang het. Sy het haar bereid verklaar om betrokke te raak en het begin deur maandeliks ‘n bydrae van R50 te maak om projekte te ondersteun.

Weens haar werksverpligtinge kon sy eers ná haar aftrede agt jaar gelede meer prakties betrokke raak. Sedertdien het sy haar hand opgesteek by die Amanzimtoti-tak, waar sy tans as ondervoorsitter op die dagbestuur dien.

Vir Hettie lê die waarde van haar betrokkenheid in die verskil wat dit maak.

“Dit is vervullend om deel te wees van ‘n organisasie wat ‘n verskil maak. Dit motiveer my om te weet ek beteken iets in die gemeenskap,” sê sy.

Sy hou daarvan om besig te bly en een van haar gunstelingprojekte is die Kuier, Klets en Kielie die Spiere-projek wat daarop gemik is om ouer persone aan die beweeg te hou.

“‘n Mens bly jonk deur aan te hou beweeg, en hierdie projek sluit mooi aan by dit wat ek self ook nodig het,” sê sy.

Volgens Hettie bring gemeenskapsbetrokkenheid nie net praktiese hulp nie, maar ook persoonlike vreugde.

“Dit gee vir my soveel vreugde om betrokke te wees. Ek voel ek word geseën, en daarom wil ek ander seën. Deur die Here se genade wil ek aanhou help so lank as wat ek kan,” sê sy.

Haar boodskap aan ander wat nog twyfel of hulle as vrywilligers moet betrokke raak, is eenvoudig en direk: “Ja man, raak betrokke. Wat is daar om oor te wonder? Betrokkenheid bring vreugde en betekenis. Raak deel van ‘n gemeenskap wat omgee,” sê sy.

Volgens Marlene Basson, Helpende Hand se streeksorganiseerder van die KZN-Suid-streek, is Hettie ‘n voorbeeld van stil maar standvastige diensbaarheid.

“Hettie is ‘n rustige, statige mens. Sy hoef nie te praat om raakgesien te word nie; haar teenwoordigheid sê reeds genoeg. Tog skroom sy nie vir harde werk nie en steek haar hand op waar daar gewerk moet word,” sê Basson.

Basson sê Hettie se benadering bring struktuur en vertroue.

“Sy glo aan orde en deursigtigheid wat dinge laat werk. Dit is mense soos Hettie wat wys jy hoef nie alles te doen nie; jy moet net bereid wees om betrokke te raak. Dit is hoe gemeenskappe groei,” sê sy.

Met haar volgehoue betrokkenheid bly Hettie ‘n betroubare steunpilaar in die Amanzimtoti-gemeenskap en iemand wat wys dat diensbaarheid mettertyd net sterker word.

Besoek www.ooskaaphand.co.za om as ‘n vrywilliger in die omgewing aan te sluit.

FOTOBYSKRIF: Hettie Moller en Liza Heydenrych (Amanzimtoti se takvoorsitter) tydens ‘n SHH Vrywilliger werkswinkel.

Uitgereik deur:

Marlene Basson

Streeksorganiseerder: Oos Kaap en KZN-Suid

E-pos: [email protected]

Selfoon: 083 501 3166

Leave a Comment