Gemeenskapsnuus: Leer ken van Helpende Hand se oudste vrywilligers

As deel van Solidariteit Helpende Hand se Vrywilligersmaand in Mei word hierdie menslike stories vertel om erkenning te gee aan die mense agter die werk – vrywilligers wie se toewyding, deernis en volgehoue betrokkenheid die ruggraat van baie gemeenskappe vorm.
*Grieta du Randt (81) van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap

81 en steeds besig om lewens op te kikker

Op 81 bly Grieta du Randt van Jeffreysbaai ‘n bekende en aktiewe krag in haar gemeenskap waar sy steeds haar tyd en energie in Solidariteit Helpende Hand se projekte belê.

Grieta se betrokkenheid by gemeenskapswerk strek oor dekades. Sy was voorheen ‘n onderwyser by Linkside High School in Port Elizabeth waar haar passie vir diens en omgee reeds posgevat het. In 2012 het sy by Solidariteit Helpende Hand Jeffreysbaai-tak aangesluit as vrywilliger.

Deesdae hou sy haar besig met verskeie projekte, soos die brei en hekel van komberse, serpe, musse en “handtoffels” wat aan kinders en ouer persone uitgedeel word. Sy is ook betrokke by haar kerk se kospakkie-projek en bied gereeld geestelike ondersteuning by ouetehuise.

Wat haar dryf om aan te hou, is haar empatie vir ander.

“Dit raak my wanneer ek sien ouers kan nie vir hul kinders voorsien soos hulle wil nie. Dit motiveer my om aan te hou help,” sê sy.

Een projek wat vir haar uitstaan, is die ondersteuning van ‘n gesin wat deur moeilike omstandighede gegaan het. Dit het geestelike ondersteuning, hulp met ‘n kind se matriekstudies en verwysing vir rehabilitasie ingesluit.

“Dit is vir my besonders om te sien hoe daardie gesin se omstandighede verander het. Die kind het matriek voltooi en werk gekry. Dit wys wat moontlik is as iemand ‘n kans kry,” sê sy.

Grieta glo dat volharding ‘n sleutelrol speel in gemeenskapswerk.

“Jy moenie opgee nie. Nie met mense nie, nie met donateurs nie, nie met gemeenskappe nie. Hou aan, want eers dan sien jy die eindresultaat,” sê sy.

Sy is positief oor die rol wat Helpende Hand in gemeenskappe speel en verwys na praktiese ondersteuning wat ‘n verskil maak.

“Kinders wat dit andersins nie sou kon doen nie, kan skool klaarmaak, en ouers raak meer betrokke by hul kinders se opvoeding,” sê sy.

Haar boodskap aan ander is duidelik: “Moenie wag vir iemand anders om iets te doen nie. Steek self jou hande uit en beleef die verskil wanneer ‘n kind se lewe verander,” sê sy.

Volgens Marlene Basson, Helpende Hand se streeksorganiseerder in die Oos-Kaap, is Grieta ‘n voorbeeld van volgehoue diensbaarheid.

“Tannie Grieta is die toonbeeld van diensbaarheid. Sy is ‘n mooi voorbeeld van skouer aan die wiel sit en hard werk ten spyte van haar ouderdom. Sy is altyd bereid om die ekstra tree te gee en hand by te sit om Helpende Hand se projekte ‘n sukses te maak. Eers nou, op 81, het sy ‘n klein bietjie briek aangedraai, en sy laat beslis ‘n leemte as sy nie meer elke projek kan bywoon nie. Tannie Grieta het stof in die oë van die jonges geskop wanneer dit by werk kom. Die mooiste wat ek altyd van haar sal onthou, is dat sy altyd reg was en altyd ja gesê het wanneer ons iets gevra het,” sê Basson.

Besoek www.ooskaaphand.co.za om as ‘n vrywilliger in die omgewing aan te sluit en mense soos tannie Grieta se werk voort te sit.

FOTOBYSKRIF: Tannie Grieta du Randt (81) van Jeffreysbaai wys haar “handtoffels”.

Uitgereik deur:

Marlene Basson

Streeksorganiseerder: Oos Kaap en KZN-Suid

E-pos: [email protected]

Selfoon: 083 501 3166

Leave a Comment